Inskrywing 2027

Kansellasie en terugbetalings

Die bedrag, datums en jou keuses voordat jy inskryf.

Laas bygewerk: 11 Oktober 2026.

Diensverskaffer

Kieswetter Klaskamer is 'n handelsnaam van Gesonde Self (Pty) Ltd. Registrasienommer: 2003/072612/23. Besigheidsadres: 813 Rubenstein Drive, Moreletapark, 0181. Telefoon: 072 341 2747. Kontak vir betalings en kansellasies: janet@kieswetterklaskamer.co.za.

2027-inskrywing en betalings

Jy kies Graad R, Graad 1 of Graad 8 vir elke kind. Graad 8 is slegs met ’n uitnodigingskode beskikbaar. Die eenmalige inskrywingsfooi is R250 vir die eerste kind plus R150 vir elke ekstra kind. As julle ná die eerste bevestigde inskrywing nog ’n kind byvoeg, betaal julle R150 vir daardie kind en word ’n afsonderlike R150-maandintekening geskep; die bestaande intekening verander nie. Die maandelikse bedrae word op die 1ste van Januarie tot Desember 2027 gehef: twaalf betalings ná die aanvanklike inskrywingsbetaling. Die betaalblad wys die bedrag en volgende datum voor betaling. Afsonderlike Sitkamer-aankope word nie as deel van die kurrikulumfooi gehef nie.

Gesinne wat die hele 2027-leerjaar vooruitbetaal, kry 15% afslag op die twaalf maande se kurrikulumfooie vir elke kind. Die eenmalige inskrywingsfooi kry geen afslag nie. Vir een kind is die bedrag R2 550 vir Januarie–Desember se kurrikulum plus R250 inskrywingsfooi: R2 800 eenmalig. Hierdie bestelling skep nie ’n maandelikse Payfast-intekening nie.

Graad R begin in Januarie 2027. Graad 1 se kurrikulum word nog voorberei vir die 2027-skooljaar. Graad 8 se eklektiese, kindgerigte kurrikulum word ná ’n konsultasie saam met elke gesin rondom die leerder se belangstellings ontwikkel. Janet kontak Graad 8-gesinne ná bevestigde inskrywing om die proses te verduidelik. Ingeskrewe Graad R-gesinne kan nou die Graad R-doelwitte in My Kantoor verken.

Gratis aanlyn kursusse vir kurrikulumlede

Wanneer ’n maandelikse gesin se inskrywingsbetaling in 2026 bevestig is, kry die gesinsprofiel een gratis aanlyn kursuskeuse vir daardie kalendermaand. Nog een keuse word elke volgende maand van 2026 beskikbaar. In 2027 kom ’n nuwe keuse by vir elke maand waarvan die maandelikse betaling bevestig is. Ongebruikte keuses hoop op en kan later saam gebruik word. Die keuses geld per gesinsprofiel, ongeag die aantal kinders.

’n Gesin wat die volle 2027-leerjaar vooruitbetaal, kan ná bevestigde betaling al die beskikbare aanlyn kursusse gratis by hul leerplek voeg, sonder die maandelikse limiet. Gratis gekose kursusse bly toeganklik terwyl die betaalde 2027-kurrikulumtoegang aktief is. As dié toegang eindig, sluit die gratis kursusse; afsonderlike kursusse wat werklik met PayFast gekoop is, bly beskikbaar. ’n Maandelikse lid kan ook enige ekstra kursus teen die gewone eenmalige prys koop.

Kanselleer jou maandelikse intekening

Jy kan jou maandelikse intekening self onder My Kantoor → Intekening kanselleer. Ons wys die kansellasie as bevestig nadat Payfast dit bevestig het; Payfast stuur ook ’n e-pos. As jy hulp nodig het, stuur vanaf jou rekeningadres ’n e-pos aan janet@kieswetterklaskamer.co.za met die onderwerp “Kanselleer my 2027-intekening” en jou bestelverwysing. As ’n bedrag ná ’n geldige kansellasieversoek verkeerdelik gehef word, ondersoek en betaal ons dit terug.

Terugbetalings

As jy binne sewe kalenderdae ná jou aanvanklike inskrywingsbetaling kanselleer, betaal ons die volle eenmalige inskrywingsfooi terug. Ná sewe dae word dié fooi nie normaalweg terugbetaal bloot omdat 'n gesin van plan verander nie. Dit beperk nie jou regte by verkeerde of dubbele heffings, nielewering, of enige ander reg wat die wet gee nie.

Vir maandelikse bedrae wat reeds gehef is, beoordeel ons die versoek volgens die maand, rede en toepaslike verbruikersregte. Terugbetalings word waar moontlik deur die oorspronklike Payfast-betaalmetode hanteer; ons bevestig die uitkoms en verwagte verwerkingstyd skriftelik.

As ’n gesin ’n vooruitbetaalde leerjaar kanselleer, bereken ons ’n terugbetaling vir toekomstige, nog ongebruikte maande teen die afslagprys wat daarvoor betaal is. Ons mag slegs ’n redelike, wetlik toelaatbare kansellasiebedrag in ag neem, onder meer met verwysing na die vooruitbetalingsafslag, en verduidelik die berekening skriftelik. Reeds gelewerde maande en die inskrywingsfooi volg die voorwaardes hierbo. Hierdie bepaling beperk nie enige reg wat die verbruikerswet gee nie.

As betaling nog nie bevestig is nie

'n Terugkeer vanaf Payfast bewys nie op sigself dat betaling suksesvol was nie. Ons aktiveer inskrywing ná Payfast se bevestiging. As jou status bly wag, moenie weer betaal nie; stuur jou bestelverwysing aan janet@kieswetterklaskamer.co.za sodat ons dit kan naslaan.

Hierdie voorwaardes dek Graad R-, Graad 1- en uitgenooide Graad 8-kurrikuluminskrywings vir 2027. Fisiese produkte word nie tans aanlyn verkoop nie. Niks hier neem dwingende verbruikersregte weg nie.